Onderhoud - Die Burger


Oop Kaarte: ’n Oomblik in hul hart

Murray la Vita

Vrydag 31 Januarie 2014 

Johan van Lill kyk na sy vroeë Kentridge-kunswerk waarin ’n kat, een van Johan se geliefde wesens, die middelpunt is. Foto: LIZA VAN DEVENTER

 ’N Slangetjie seil voor ons voete verby wanneer ons in Durbanville die welige tuin van Johan van Lill betree.

“Die tuin het ’n lewe van sy eie. Mý lewe is so gestruktureer en in boksies ingedeel – so op ’n spreadsheet en in dagboeke. My tuin moet groei waar hy wil groei,” sê hy.

Voordat die onderhoud begin, kyk ons na Johan se lieflike kunsversameling, wat veral werke van die kunstenaars Henk Serfontein, Anton Karstel en Johann Louw insluit.

“Ek hou van werke by die huis wat ’n slag met mý praat. My werk is baie om met ánder mense te praat, so as ek hier kom, dan soek ek werk wat my wakker maak.”

Ons staan voor ’n hawetoneel van Tyrone Appollis.

“Ek hou van die naïwiteit daarin . . . dit herinner my aan my kinderdae. Ek het op Vanrhynsdorp grootgeword en ons het soms Kaap toe gekom, en Kaap toe kom was gróót. My pa het ons altyd geneem en dan het ons in die hawe gaan sit en na die bote gekyk vir ’n hele oggend.”

Later, wanneer ons in die sitkamer op leerbanke sit, praat hy verder oor sy kinderdae.

“My pa was ’n dominee op Vanrhynsdorp. Ek het ’n wonderlike kinderlewe gehad; ek het nie probleme daarmee gehad om in ’n pastorie groot te word nie.”

Onderwys en radiowerk is in die Van Lills se bloed, sê hy.

“Ek het van kleintyd gewéét ek wil by onderwys betrokke raak. Alhoewel hulle vir my op skool gesê het ek moet BRek en daai goeters gaan doen, wou ek dit nie doen nie.

“Ménse fassineer my en kínders fassineer my, en toe het ek op die ou end besluit ek gaan kollege toe, want ek wil die práktiese goed leer.”

Hierop het kursusse aan die Wellingtonse Onderwyskollege en ’n hele aantal grade aan die Universiteit Stellenbosch gevolg.

“Afrikaans-Nederlands, sielkunde, joernalistiek, dokumentontwerp . . . al daai tipe goed. Gewone BA’s en honneurse.

“Ek het twee jaar skoolgehou en toe besluit ek ek hou van skoolhou, maar ek is meer geïnteresseerd in die wetenskap van onderwys. Die goed wat ek daarna gedoen het – die bietjie wat ek verder in neurowetenskap en daai tipe goed begin studeer het, was juis as gevolg daarvan. Hoe die brein werk, is vir my ’n fassinerende ding. Toe ek studeer het, was die brein nog ’n veld waaroor mense gewonder het. Die ou onderwysers het geweet hoe dit werk, maar op gut feeling, want ons kon nie die brein in werking sien nie. Maar as ’n mens nou begin met scans en goed werk, dan kan jy sien hoe die brein funksioneer, en dit het vir ons baie geleer. Wat ek deesdae doen, is baie meer op neurowetenskap gebaseer.”

Hy het onder meer aan Cambridge ’n kursus oor neurowetenskap en onderwys gedoen.

“Almal kla die kinders lees so sleg en hulle doen so sleg wiskunde. Ek sê mos net dit het verander; die wêreld waarin hulle grootword, het verander. As ons twintig jaar terug gesê het kinders gaan nou op ’n iPad werk, sou ek vir jou gesê het nie in mý leeftyd nie. Kinders lees nie noodwendig slegter nie, hulle lees net vinniger. En hulle lees ánders.

“Ek doen baie onderwyseropleiding en meesal is dit maar net sulke maak-jou-kop-oop-sessies; dink ’n bietjie anders oor die brein. En ook: Die moderne kind se behoeftes is totáál anders as wat ons behoeftes was.

“Ek is ook maar ’n besoeker aan hul wêreld; ek probeer nou maar net ’n besoeker wees wat waarneem hoe hulle dink en doen.

“Kyk, ek is ’n Waterdraer, so ons eet, leef, slaap tegnologie, so dit is miskien nie vir my so moeilik nie. Ek is lief vir daai wêreld en ek is mal oor die energie en hoe kinders jou challenge om net jouself beskikbaar te maak.

“Kinders maak ’n mens baie weerloos, want hulle vat jou na plekke toe in jou kop waar jy baiekeer nie eens bedrading het nie . . . omdat hulle so intuïtief is. Goed wat ek moes aanleer, is vir hulle net intuïtief daar. Jy sit ’n iPad voor ’n kind neer en dis intuïtief . . .”

Buiten skoolboeke is Johan die skrywer van fiksie vir kinders.

“Ek hou van stories. Ek het met ’n ma grootgeword wat vir ons haar eie stories vertel het; en dit was vervólgverhale. Ek onthou – ek het drie broers – ons vier seuntjies wat in die aande rondom my ma sit en nie kan wag vir die volgende episode van ‘Kosie’ nie. En omdat ek ’n pa het wat ook geskryf het, kom skryf nogal maklik.

“Ek was ’n kind wat baie nuuskierig was; ek het onophoudelik gepraat en aanmekaar vrae gevra. Ek dink ek moes my ma-hulle mal gemaak het. Ek wou byvoorbeeld geweet het: Maar hoe weet ek dit gaan môre reën? My arme ma. Ek was so persistent.

“Ek kon vroeg praat. Ek dink dit was meer ’n angs om aan die praat te kom . . . En ek was ook een van daai gelukkige kinders wat kon lees voordat ek skool toe is – nie omdat iemand my geleer het nie, maar net omdat my ma nie vinnig genoeg kon lees nie.

“So, dit was vir hulle niks vreemd dat ek as kind met ’n koerant gelê het nie, want dit was vir my lekker en ek het ’n drang na inligting gehad.

“Toe het ek maar later kinderboeke begin skryf waarin ek die vrae vir myself beantwoord.”

Sy boek Die Agtervolger, wat vanjaar landwyd vir gr. 8-leerders voorgeskryf word, is verwerk tot ’n tienerdrama wat op die Suidoosterfees gedebuteer het.

“Toe ek nou die akteurs ontmoet wat die karakters is in die drama . . . Dis nogal ’n angswekkende ervaring, want daai karakters in jou kop het nou lýwe.

“Ek onthou die dag toe die teks (van die toneelstuk) daar aankom, het ek die kantoordeur toegemaak en so diep asemgehaal en gedink: Oukei! Open mind! Jy’t gesê let go! Let go! En toe ek klaar gelees het, het ek gedink: Wow! iemand het actually met respék met my storie omgegaan.

“Ek het die gevoel gehad dat Vicky (Davids, verwerker en regisseur) en Herman (Pieters, vervaardiger) het met respék gewerk met my boek. Hulle het nie my boek gegryp en ’n agenda met my boek gehad nie – hulle het mý storie gevat en dit actually vertel op ’n manier wat ’n dimensie bygedra het.

“En dis wat ek ook so waardeer het van die tienerakteurs – hulle het die karakters gevat en dit deel van hulle gemaak. En met respék gewerk.

“Respek is vir my nogal ’n belangrike ding . . . My huis is vol kuns omdat ek baie respek het vir kreatiwiteit, want mens moet dít op ’n baie eerlike plek gaan haal.”

’N Groot deel van sy vol lewe bestaan uit radiowerk.

“Jy love net die medium of nié. Radio gaan vir my oor die ménse. So, dis meer as dat jy net daar gaan sit en jy saai uit – jy praat rêrig met mense en jy is in mense se koppe. So hulle voer ook hierdie gesprek met jou.

“As jy in ’n winkel stap en ’n tannie ken jou nou – hulle wil aan jou vát . . . Hulle knyp vir jou blóú!”

Wat baie mense nie besef nie, is dat hy radio-personas het.

“Ek bied ’n érnstige program aan op ’n Sondag (Kruis en Dwars) en dan bied ek ’n program op ’n Donderdag aan (Groeipyne), waarin ek amper die persona van ’n jong pa het.

“Dan kry jy ’n omie wat vir jou skryf en sê: ‘Met hierdie Donderdagprogram van jou waar jy so informeel praat – jy moet ’n bietjie maak soos jou pá op ’n Sondagaand praat.’ En as jy dan vir hom sê dis eintlik dieselfde persoon, is die omie baie in die gesig gevat,” sê hy geamuseerd.

“Jy moet weet dat jy met waardigheid in mense se koppe moet wees. Partykeer is jy nou in sak en as oor kritiek. Maar daar is niks soos ’n héérlike melktert of ’n peppermint crisp-tert wat jou dan deur die dag help nie,” sê hy laggend.

“Radio leer jou om eerlik te wees, en die luisteraars hóú jou eerlik. Die oomblik as jy begin projekteer wat jy nié is nie . . . die luisteraars kláp jou gou terug.

“Ek het ook al agtergekom: As jy regtig nie weet nie, móét dit nie fake nie! Uit daai twee miljoen wat luister, ís daar iemand wat dit weet.

“Jy het ook daardie momente wat vir jou hoendervleis gee. Ek het ’n program gedoen oor egskeiding. . . En dan kry jy die e-pos van ’n ma wat vir jou sê: ‘Ek het na jou geluister terwyl ek my kind se kleertjies ingepak het, en ek wou dat sy pa hom nóóit weer sien nie. Maar die program het gemaak dat ek ánders daaroor gedink het . . .’ ”

Sy groot passie is die onderhoude. ’n Baie spesiale onderhoud was dié waarin Adri-Louise van Renen, ’n voormalige redakteur van die Kerkbode, oor haar kanker en haar geloof gepraat het.

“Die eerlikheid van haar in daai program was . . . Weet jy, dan sit jy daar as jy klaar is en iemand het régtig hulle hart op die tafel gesit en jou na plekke gevat in ’n onderhoud waar jy weet nou stap ons saam die pad . . . Dat jy ná die tyd gaan sit in jou kantoor . . . Ek het ’n beautiful kunswerk in my kantoor van Johann Louw – ’n swart man wat op ’n stoel sit teen so ’n grys agtergrond en hy kýk na iets.

“En ek onthou die oggend ná ek met Adri-Louise gepraat het, het ek daar gaan sit en na hierdie werk gekyk en vir die eerste keer geweet waarna kyk hierdie man . . .”

Die skildery daarnaas is een van dooie proteas.

“Mense create hierdie ding vir jou waar jy ’n oomblik in hul harte en hul lewe is en hulle gee so baie . . . Soos die proteas wat uit vreugde vir iemand gegee is en dan daar  . . . dit is ook maar vlietend.”


BIOGRAFIESE FEITE

In kunskringe is Johan van Lill se stem bekend as aanbieder in radioprogramme soos RSG Kuns, waarvoor hy al die Kaapse kuns-insetsels bied, en Kaapse Dagboek op die Kaapse Fine Music Radio. Daarby bied hy RSG Matriek-hersiening en RSG Groeipyne aan.

Johan is ook ’n lid van die Fleur du Cap-teaterpryse se paneel wat jaarliks uitnemendheid in die teaterbedryf bekroon, asook van die Fiësta-paneel.

In sy hoedanigheid as opvoedkun-dige is hy onder meer ’n opvoedkundige konsultant van HIP2B², ’n maatskappy wat entoesiasme vir wiskunde, wetenskap en tegnologie by leerders stimuleer.

© Johan van Lill 2013